Monday, August 31, 2009

‘Lekker!’ sê rower nadat hy man skiet

“Lekker!”
Vriginia Keppler

So het ’n rower eergistermiddag laggend vir ’n 62-jarige man van Villieria in Pretoria gesê nadat hy hom geskiet het.

Mnr. August Schäfer (62) en sy vrou, Hannetjie (62), is eergistermiddag om 17:30 tuis deur drie gewapende rowers oorval.

Hy het op ’n stoel by die agterdeur gesit en vrugte vir konfyt prik, terwyl sy vrou in hul kleinseun, Stanley Naudé (23), se kamer gelê het.

Naudé het gesê volgens sy
oupa het die rowers ’n rewolwer teen sy mond gedruk en gesê hy moet stilbly. “Twee het hom aan elke arm gegryp, terwyl ’n derde een by die huis ingegaan het. Hy het verby my kamer waar my ouma gelê het na die hoofslaapkamer gestap,” het hy gesê.

Mev. Schäfer het gesê sy het opgestaan toe sy ’n geskuif van voete buite hoor.

“Toe ek deur die venster kyk, het ek die twee mans aan elk van my man se sye gesien.

“?Asseblief, los my man! Moet hom nie skiet nie!” het sy vir die rowers geskreeu.

“Maar dit het hulle nie gekeer nie, want die volgende oomblik het hulle hom voor my oë geskiet. Ek het nog die vuurwapen se blou vlam gesien,” het sy huilend vertel.

Mnr. Schäfer is in die linkersy gewond. Die koeël het sy regterheup gebreek en sy blindederm, dunderm en dikderm deurboor.

“Ek het daarna ses keer 0?10111 probeer bel, maar kon nie deurkom nie. My buurvrou het later deurgekom en die polisie ontbied,” het mev. Shäfer gesê. Sy het gesê die polisie het eers ’n driekwartier later opgedaag.

“Ek het by my man gekniel en gesien hoe die bloed by sy mond uitborrel. Ek het die hele tyd vir hom gesê hy moenie doodgaan en my alleen los nie.”

Naudé, wat kort ná die voorval by die huis opgedaag het, het sy oupa op sy sy gedraai sodat die bloed uit sy mond kon loop. “Daarna het ek hom die hele tyd wakker probeer hou. Ek het gevoel hoe my oupa se hande koud raak,” het ’n steeds geskokte Naudé gesê.

Mnr. Schäfer word tans in die Steve Biko-hospitaal behandel waar hy in ’n ernstige toestand is.

Mnr. Cecil Naudé, die egpaar se seun, het gesê die rowers het gevlug met net sy ma se handsak. Haar rybewys, identiteitsdokument en bankkaart was daarin.

Volgens mev. Schäfer het die rowers ook iets in hul hond se gesig gespuit, want hy het daarna aanhoudend genies en geproes.

Me. Aveline Hardaker, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek ’n klag van huisroof en poging tot moord.

Bron: http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/ba1500b8b0d044da8d3892fe2a7c53ed/01-09-2009%2012-09/%E2%80%98Lekker!%E2%80%99_s%C3%AA_rower_nadat_hy_man_skiet

Wednesday, August 26, 2009

SMS aan pa in kerk red gesin se lewe

Virginia Keppler

‘Dad, daar is swartes met guns in ons huis.”

Dié SMS van ’n kalm 16-jarige meisie van Montana in die noorde van Pretoria aan haar pa in die kerk het waarskynlik die lewe van haar broer en ma, ’n superintendent in die polisie, gered.

Lunique Lottering het eergister omstreeks 19:45 in haar slaapkamer se badkamer weggekruip terwyl drie gewapende rowers haar ma, supt. Cathy Lottering (41), en broer, Tyran (11), aangehou, vasgebind en beroof het.

Een rower het Tyran voor die televisie oorval en ’n ander sy ma in haar slaapkamer op die boonste verdieping.

“Hulle het ons hande met plastiekkabels agter ons rûe vasgebind. Tyran het aanhoudend aan hulle gesê: ‘Moet my nie seermaak nie, ek sal julle wys waar die kluis se sleutels is’,” het supt. Lottering gesê.

Die rowers het hulle na die hoofslaapkamer se inloopkas geneem waar supt. Lottering vir hulle ’n kluis oopgemaak het.

Hulle het haar dienspistool, haar man se pistool en juwele gesteel. Lunique, wat in dié stadium in haar kamer was, het die gewoel gehoor en gaan kyk wat aangaan.

Toe sy by haar ma se kamerdeur kom het haar ma haar eerste gewaar en met die oë en kop beduie om nie in te kom nie.

Sy is dadelik terug na haar kamer waar sy eers haar selfoon se klank afgesit het en ’n SMS aan haar pa, Riaan (42), gestuur het. Hy was by ’n koor-oefening by die Ou Apostoliese Kerk in Montana.

“Omdat my pa nooit SMS’e lees as hy by die kerk is nie het ek ook al my please call me’s gestuur,” het Lunique gister langs haar pa se bed by die Montana-hospitaal gesê.

Mnr. Lottering het gesien sy telefoon, wat op ’n kas in die kerk gelê het, vibreer aanhoudend en het besluit om die boodskappe te lees. Hy het die polisie en ADT-veiligheidsmaatskappy gebel en met ’n gemeentelid huis toe gejaag. Nog gemeentelede het in ’n ander voertuig agternagekom.

Langs die pad het hy ’n polisievoertuig voorgekeer en hulp gevra. By sy huis het mnr. Lottering ’n voertuig in sy oprit sien staan. Toe hy by die hek kom, het ’n man met ’n 9?mm-pistool uit die voertuig geklim en hom deur sy bakkie se deur in die regterbeen net bokant die knie geskiet.

Kapt. Jan Sepato, polisiewoordvoerder, het gesê ’n wilde jaagtog en skietgeveg tussen die polisie en die rowers het kort daarna uitgebreek. “Meer as 100 skote is oor en weer afgevuur. Die rowers se Audi se agterruit is stukkend geskiet en die polisievoertuig is ook talle kere met 9?mm-pistole en R5-aanvalsgewere raak geskiet.”

Die rowers het met drie selfone, twee pistole, ’n skootrekenaar en ’n televisiestel weggekom.

Bron: http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/5e2ea0b4f89a4fd6a375576b0ed4bbe9/27-08-2009%2012-08/SMS_aan_pa_in_kerk_red_gesin_se_lewe

Tuesday, August 25, 2009

Gesteek en geslaan in ‘haataanval’

Geskryf deur Virginia Keppler,

’n Pretoriase man is wreed in sy huis vermoor voordat hy sy plan kon uitvoer om ’n alarmstelsel te laat installeer ná ’n vlaag van inbrake.

Vermoedelik voormalige werknemers het die man by sy huis met messe gesteek en met ’n geweerkolf en ’n vol whiskybottel doodgeslaan.

Dit kom nadat mnr. Willie Andries Pretorius (64) van Poortsigstraat in Bergtuin in die noordooste van die stad in Januarie tydens ’n gewapende huisrooftog op sy bed vasgemaak is.

Daar was boonop in die afgelope ses weke minstens vier inbrake by sy huis, het mnr. Brett Jooste (33), sy skoonseun, gister gesê.

Pretorius het hom Donderdag die ADT-veiligheidsmaatskappy se telefoonnommer gevra omdat hy ’n alarmstelsel wou laat installeer.

“Maar dit was te laat.”

Pretorius, ’n afgetrede dak-kontrakteur, is tussen Vrydagaand en Saterdagoggend vermoor.

“Dit was ’n haataanval,” het sy seun, Arno (33), gesê.

“My pa het met hulle gestoei, want daar is bloedspatsels teen die mure, in die gang en in van die slaapkamers.”

Jooste en sy vrou, Izelle (34), het onraad vermoed toe hulle haar pa sedert eergisteroggend nie per telefoon in die hande kon kry nie. Hulle het om 19:00 na Pretorius sr. se huis gery, waar hulle gesien het ’n ruit is netjies uitgehaal. Dit was dieselfde ruit wat onlangs tydens ’n inbraak gebreek is.

“Die stopverf was nog nat en hulle het dit net weer afgehaal en die ruit uitgehaal.”

Hulle het ’n polisievriend gebel, wat die deur oopgeskop en op die lyk onder komberse op sy bed afgekom het. Sy hande was met ’n das voor teen sy keel vasgebind.

Pretorius jr. het gesê die polisie het ’n knipmes, ’n kombuismes en bebloede stukke van ’n whiskybottel in die huis gekry.

“My pa se .303-geweer is naby sy lyk gekry en die kolf is stukkend, wat daarop dui dat hulle hom dalk ook daarmee teen die kop geslaan het.”

Die rowers het vleis uit die vrieskas, ’n TV en ’n voertuig gesteel, het Pretorius jr. gesê.

Volgens hom is daar ’n sterk vermoede dat twee voormalige werknemers van sy pa vir sy dood verantwoordelik is.

“My pa het die een weggejaag toe hy hom gevang het dat hy steel. Die ander een, wat 13 jaar vir my pa gewerk het, was kwaad vir my pa omdat my pa hom nie geld wou leen vir sy kind se begrafnis nie,” het hy gesê.

Pretorius jr. het gesê hulle is hartseer en kwaad.

“Die doodstraf moet teruggebring word.”

Pretorius sr. was geskei en het alleen gebly. Hy word ook deur nog ’n dogter, me. Tannya Symons (36), oorleef.

Me. Aveline Hardaker, polisiewoordvoerder, het gesê die moordenaars het ook Pretorius se blou Daewoo-motor met die registrasienommer MJK?586?GP gesteel.

Hardaker het enigiemand met inligting oor die voorval gevra om die polisie by 0?08600?10111 te bel.

Thursday, August 20, 2009

Geskiet by vulstasie: vrou sterf

Geskryf deur Daniella du Plooy,

Die vrou wat Woensdagaand geskiet is waar sy in haar motor by 'n vulstasie in Douglasdale in die noorde van Johannesburg gesit het terwyl sy laat petrol ingooi het, is dood.

Vlugtende rowers het me. Lindsy Marshall, 'n ma van twee jong dogters, in die bors geskiet nadat hulle die bestuurder van die vulstasiewinkel van 'n beursie en selfoon beroof het.

Die mans wou vermoedelik haar motor gebruik om weg te kom van die toneel, maar het te voet gevlug nadat hulle haar geskiet het.

Marshall is na die Netcare -Sunninghill hospitaal gebring waar sy later gesterf het.

Volgens me. Mandy Toubkin, Netcare-woordvoerder, laat Marshall twee jong dogters, Kieran en Kirsten, agter.

Bron: http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/899783a83cce40f0aa0f9ecb09c1bbf6/20-08-2009%2003-08/Geskiet_by_vulstasie_vrou_sterf

Friday, August 14, 2009

‘Alles was vol bloed’

Geskryf deur Hilda Fourie

’n Plaaslike raadslid het gisteroggend op haar 84-jarige pa afgekom waar hy al langer as 24 uur met ’n skietwond in die bors in sy huis in Bronkhorstspruit gelê het.

“Al wat ek gesien het, was bloed,” het me. Cecile Knox (54), DA-raadslid van die Kungwini-plaaslike owerheid, gister by die Pretoria-Oos-hospitaal gesê.

Mnr. Piet Knox is in ’n ernstige, maar bestendige toestand in die hoësorgeenheid daar.

Insp. Sanet Lourens, polisiewoordvoerder, het gesê mnr. Knox het eergisteroggend omstreeks 03:00 wakker geword en besef twee mans krap in die bedkassie en spieëlkaslaaie van sy slaapkamer rond.

Toe die mans sien hy is wakker, het hulle hom begin slaan, onder meer met ’n vuurwapen oor die kop.

Mnr. Knox het sy eie vuurwapen, wat onder die kussing langs hom gelê het, geneem en ’n skoot gevuur.

Een van die rowers het ook geskiet en die koeël het mnr. Knox in die bors getref.

Dit is deur sy long en by sy rug uit.

Die rowers het mnr. Knox se vuurwapen gegryp en gevlug.

Hy het na die sitkamer gestrompel waar hy op die vloer gaan lê het.

Hy kon niemand bel nie, want die rowers het die telefoonprop uit die muur getrek.

Hy het wakker gelê en elke nou en dan ’n peperment gesuig totdat sy dogter gisteroggend omstreeks 08:00 opgedaag het.

Sy het eers omstreeks 07:45 onraad vermoed nadat haar huiswerker bevestig het hy het nie eergister oudergewoonte die koerant vir haar gebring nie.

Me. Knox en haar pa woon sowat vyf huise van mekaar af. Voordat sy na haar pa is, het sy aan die huiswerker gesê sy glo haar pa “is nie meer met ons nie”.

By haar pa se huis was die sitkamervenster oop en die diefwering oopgebuig.

“Ek het na my pa se kamervenster geloop en gesien die bed was vol bloed.”

Knox het die polisie, ’n dokter en ’n vriend gebel.

Mnr. Amedie Bull, haar vriend, het deur die oop sitkamervenster geklim en mnr. Knox op die sitkamervloer gekry. “Amedie het net gesê my pa leef nog, maar ek moet die ambulans bel.

“Hy het op die vloer voor die televisie op sy sy gelê. Sy stoel, kussings en pajamas was vol bloed. Alles was net vol bloed.”

“Ek is ongelooflik dankbaar dat my pa nog leef.”

Bron: http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2547633,00.html

Thursday, August 13, 2009

‘Hy gaan haar tref'

Geskryf deur Herman Scholtz,

‘Hy gaan haar tref! Hy gaan haar tref!”

Dit was die woorde van ’n ooggetuie aan haar dogter die dag toe Bernadine Kruger (16) deur ’n minibustaxi omgestamp en doodgery is.

Me. René van Zyl het gister in die Pretoriase streekhof getuig sy en haar 11-jarige dogter het gesien hoe Bernadine “deur die lug gevlieg” het.

Van Zyl het saam met die verkeer vorentoe beweeg, maar haar dogter het teruggekyk en gesê: “Die taxi stop nie!”

Mnr. Percyval Matji (31) het skuld ontken op aanklag van moord op Bernadine en drie alternatiewe aanklagte van strafbare manslag, roekelose en nalatige bestuur en onbedagsame bestuur.

Bernadine het op 23 Februarie in Atterburyweg, Pretoria, gesterf. Sy was die oggend omstreeks 07:00 met haar bromponie op pad na die Hoërskool Garsfontein toe die taxi haar getref het. Sy is op die toneel dood.

Van Zyl, mnr. Hugo Vermaak en me. Sanet Venter het al drie getuig ’n taxibestuurder het hard, aanhoudend en “aggressief” vir Bernadine toeter geblaas.

Hulle het die voorval gesien terwyl hulle in die verkeer, wat in ’n westelike rigting beweeg het, vasgesit het. Volgens hulle was daar benewens die taxi en bromponie min of geen verkeer in die teenoorgestelde rigting.

Al drie het gesê die taxibestuurder het baie vinnig gery en oënskynlik nie spoed verminder voordat sy voertuig Bernadine se bromponie getref het nie.

Dit wou voorkom of sy na die linkerbaan wou oorgaan voordat die taxi haar eers getref en toe bo-oor haar gery het, het hulle getuig.

Bernadine is etlike meter ver geslinger, het al drie getuig.

Volgens Vermaak het die taxibestuurder daarna “baie ver aangery”, toe tot stilstand gekom en ’n klein entjie teruggery voordat hy stilgehou het.

Volgens hom het Bernadine eers in die linkerbaan gery met die toetende taxi kort op haar hakke. Sy het haar flikkerlig aangesit en na regs oorbeweeg, waarna die taxi haar gevolg het.

Toe Vermaak gevra is of daar enige rede vir die taxibestuurder was om te toet, het hy gesê daar was nie eens pendelaars langs die pad nie.

“Dit het gelyk of hy haar uit die pad wil kry.”

Die ooggetuies het almal gesê hulle meen Matji kon die ongeluk vermy het deur remme aan te slaan of bloot na die linkerbaan oor te gaan.

Adv. Rendani Mufumadi het namens Matji aangevoer Bernadine het voor hom ingery, hy het vir haar getoet “toe hy besef haar tydsberekening was nie perfek nie” en haar toe per ongeluk omgery.

Mufumadi het Vermaak gevra of hy taxibestuurders haat.

“Ek stel dit aan u dat u verskuilde motiewe het. Dis waarom u getuig.”

Adv. Sanet van Rensburg, staatsaanklaer, het op dié punt beswaar aangeteken wat deur streeklanddros Edmund Patterson gehandhaaf is.

Me. Elsabé Homan, Bernadine se ma, het by tye die trane van haar wang afgevee toe die getuies haar dogter se laaste oomblikke beskryf het.

Die saak is tot volgende week uitgestel.

Bron: http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2547632,00.html

Sunday, August 9, 2009

Sê asseblief vir my dat die tsotsi’s nie regeer

Johan van Polokwane skryf:

Ek kon gisteraand nie slaap nie.

Ek het ’n SMS van ’n vriend gekry wat deur drie gewapende barbare voor sy huis in Centurion van sy motor, skootrekenaar, kamera en selfoon beroof is. My eerste gedagte: Dankie tog hy leef nog.

Dit is mos hoe dit werk, die rooftog is alledaags. Ons arme drommels wat aan die genade van rampokkers oorgelaat word, is maar net te dankbaar as ons met ons lewens daarvan afkom.

Ek sit en dink aan die eerste keer dat misdaad my familie geraak het.

Dit was ’n gewapende motorkaping sowat tien jaar gelede, die gelukkige een om te bly leef, my skoonsuster.

Daarna word my selfoon met ’n mes en geweld afgevat. ’n Huisbraak in dieselfde jaar.

’n Vriendin se man word doodgeskiet tydens ’n gewapende roof.

Nog ’n vriendin word voor die bank waar sy werk met ’n AK47 afgemaai.

’n Jaar of wat later word ’n vriend se vrou in ’n salon van agter in die kop doodgeskiet.

Een van my beste vriende se beurt was verlede jaar toe ook hy van agter in die kop in ’n rooftog doodgeskiet is.

’n Paar van ons vriende kuier bymekaar. In die geselskap sit twee vroue.

Elkeen het twee skoonseuns gehad wat vermoor is. Twee in plaasmoorde en twee in gewapende rooftogte.

Kom aan, pres. Zuma, sê vir my asseblief die tsotsi’s regeer nie die land nie.

Bron: http://jv.news24.com/Beeld/Opinie/Briewe/0,,3-2085-73_2546560,00.html

20 armed robbers hail bullets at police

Gauteng police on Saturday night walked in on some 20 heavily armed robbers in action sparking a shoot-out that left one wounded, their spokesperson said on Sunday.

Captain Julia Claassen said the robbers armed with AK-47's and 9mm pistols broke into the Mediterranean shipping company around 11.15pm in City Deep and tied up security guards.

She said police were alerted to the robbery in progress and on arrival a shoot-out broke out leaving one of the suspects wounded.

Five other suspects aged between 27 and 38 were arrested on scene and two 9mm pistols were recovered.

The rest of the other suspects managed to escape into the nearby bushes, Claassen said.

The suspects arrested were charged with business robbery and they are all expected to appear in the Johannesburg Magistrate's Court soon. - Sapa

Source: http://www.int.iol.co.za/index.php?set_id=1&click_id=13&art_id=nw20090809092748938C797000