Friday, August 14, 2009

‘Alles was vol bloed’

Geskryf deur Hilda Fourie

’n Plaaslike raadslid het gisteroggend op haar 84-jarige pa afgekom waar hy al langer as 24 uur met ’n skietwond in die bors in sy huis in Bronkhorstspruit gelê het.

“Al wat ek gesien het, was bloed,” het me. Cecile Knox (54), DA-raadslid van die Kungwini-plaaslike owerheid, gister by die Pretoria-Oos-hospitaal gesê.

Mnr. Piet Knox is in ’n ernstige, maar bestendige toestand in die hoësorgeenheid daar.

Insp. Sanet Lourens, polisiewoordvoerder, het gesê mnr. Knox het eergisteroggend omstreeks 03:00 wakker geword en besef twee mans krap in die bedkassie en spieëlkaslaaie van sy slaapkamer rond.

Toe die mans sien hy is wakker, het hulle hom begin slaan, onder meer met ’n vuurwapen oor die kop.

Mnr. Knox het sy eie vuurwapen, wat onder die kussing langs hom gelê het, geneem en ’n skoot gevuur.

Een van die rowers het ook geskiet en die koeël het mnr. Knox in die bors getref.

Dit is deur sy long en by sy rug uit.

Die rowers het mnr. Knox se vuurwapen gegryp en gevlug.

Hy het na die sitkamer gestrompel waar hy op die vloer gaan lê het.

Hy kon niemand bel nie, want die rowers het die telefoonprop uit die muur getrek.

Hy het wakker gelê en elke nou en dan ’n peperment gesuig totdat sy dogter gisteroggend omstreeks 08:00 opgedaag het.

Sy het eers omstreeks 07:45 onraad vermoed nadat haar huiswerker bevestig het hy het nie eergister oudergewoonte die koerant vir haar gebring nie.

Me. Knox en haar pa woon sowat vyf huise van mekaar af. Voordat sy na haar pa is, het sy aan die huiswerker gesê sy glo haar pa “is nie meer met ons nie”.

By haar pa se huis was die sitkamervenster oop en die diefwering oopgebuig.

“Ek het na my pa se kamervenster geloop en gesien die bed was vol bloed.”

Knox het die polisie, ’n dokter en ’n vriend gebel.

Mnr. Amedie Bull, haar vriend, het deur die oop sitkamervenster geklim en mnr. Knox op die sitkamervloer gekry. “Amedie het net gesê my pa leef nog, maar ek moet die ambulans bel.

“Hy het op die vloer voor die televisie op sy sy gelê. Sy stoel, kussings en pajamas was vol bloed. Alles was net vol bloed.”

“Ek is ongelooflik dankbaar dat my pa nog leef.”

Bron: http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2547633,00.html

No comments:

Post a Comment