Wednesday, August 26, 2009

SMS aan pa in kerk red gesin se lewe

Virginia Keppler

‘Dad, daar is swartes met guns in ons huis.”

Dié SMS van ’n kalm 16-jarige meisie van Montana in die noorde van Pretoria aan haar pa in die kerk het waarskynlik die lewe van haar broer en ma, ’n superintendent in die polisie, gered.

Lunique Lottering het eergister omstreeks 19:45 in haar slaapkamer se badkamer weggekruip terwyl drie gewapende rowers haar ma, supt. Cathy Lottering (41), en broer, Tyran (11), aangehou, vasgebind en beroof het.

Een rower het Tyran voor die televisie oorval en ’n ander sy ma in haar slaapkamer op die boonste verdieping.

“Hulle het ons hande met plastiekkabels agter ons rûe vasgebind. Tyran het aanhoudend aan hulle gesê: ‘Moet my nie seermaak nie, ek sal julle wys waar die kluis se sleutels is’,” het supt. Lottering gesê.

Die rowers het hulle na die hoofslaapkamer se inloopkas geneem waar supt. Lottering vir hulle ’n kluis oopgemaak het.

Hulle het haar dienspistool, haar man se pistool en juwele gesteel. Lunique, wat in dié stadium in haar kamer was, het die gewoel gehoor en gaan kyk wat aangaan.

Toe sy by haar ma se kamerdeur kom het haar ma haar eerste gewaar en met die oë en kop beduie om nie in te kom nie.

Sy is dadelik terug na haar kamer waar sy eers haar selfoon se klank afgesit het en ’n SMS aan haar pa, Riaan (42), gestuur het. Hy was by ’n koor-oefening by die Ou Apostoliese Kerk in Montana.

“Omdat my pa nooit SMS’e lees as hy by die kerk is nie het ek ook al my please call me’s gestuur,” het Lunique gister langs haar pa se bed by die Montana-hospitaal gesê.

Mnr. Lottering het gesien sy telefoon, wat op ’n kas in die kerk gelê het, vibreer aanhoudend en het besluit om die boodskappe te lees. Hy het die polisie en ADT-veiligheidsmaatskappy gebel en met ’n gemeentelid huis toe gejaag. Nog gemeentelede het in ’n ander voertuig agternagekom.

Langs die pad het hy ’n polisievoertuig voorgekeer en hulp gevra. By sy huis het mnr. Lottering ’n voertuig in sy oprit sien staan. Toe hy by die hek kom, het ’n man met ’n 9?mm-pistool uit die voertuig geklim en hom deur sy bakkie se deur in die regterbeen net bokant die knie geskiet.

Kapt. Jan Sepato, polisiewoordvoerder, het gesê ’n wilde jaagtog en skietgeveg tussen die polisie en die rowers het kort daarna uitgebreek. “Meer as 100 skote is oor en weer afgevuur. Die rowers se Audi se agterruit is stukkend geskiet en die polisievoertuig is ook talle kere met 9?mm-pistole en R5-aanvalsgewere raak geskiet.”

Die rowers het met drie selfone, twee pistole, ’n skootrekenaar en ’n televisiestel weggekom.

Bron: http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/5e2ea0b4f89a4fd6a375576b0ed4bbe9/27-08-2009%2012-08/SMS_aan_pa_in_kerk_red_gesin_se_lewe

No comments:

Post a Comment