Thursday, August 13, 2009

‘Hy gaan haar tref'

Geskryf deur Herman Scholtz,

‘Hy gaan haar tref! Hy gaan haar tref!”

Dit was die woorde van ’n ooggetuie aan haar dogter die dag toe Bernadine Kruger (16) deur ’n minibustaxi omgestamp en doodgery is.

Me. René van Zyl het gister in die Pretoriase streekhof getuig sy en haar 11-jarige dogter het gesien hoe Bernadine “deur die lug gevlieg” het.

Van Zyl het saam met die verkeer vorentoe beweeg, maar haar dogter het teruggekyk en gesê: “Die taxi stop nie!”

Mnr. Percyval Matji (31) het skuld ontken op aanklag van moord op Bernadine en drie alternatiewe aanklagte van strafbare manslag, roekelose en nalatige bestuur en onbedagsame bestuur.

Bernadine het op 23 Februarie in Atterburyweg, Pretoria, gesterf. Sy was die oggend omstreeks 07:00 met haar bromponie op pad na die Hoërskool Garsfontein toe die taxi haar getref het. Sy is op die toneel dood.

Van Zyl, mnr. Hugo Vermaak en me. Sanet Venter het al drie getuig ’n taxibestuurder het hard, aanhoudend en “aggressief” vir Bernadine toeter geblaas.

Hulle het die voorval gesien terwyl hulle in die verkeer, wat in ’n westelike rigting beweeg het, vasgesit het. Volgens hulle was daar benewens die taxi en bromponie min of geen verkeer in die teenoorgestelde rigting.

Al drie het gesê die taxibestuurder het baie vinnig gery en oënskynlik nie spoed verminder voordat sy voertuig Bernadine se bromponie getref het nie.

Dit wou voorkom of sy na die linkerbaan wou oorgaan voordat die taxi haar eers getref en toe bo-oor haar gery het, het hulle getuig.

Bernadine is etlike meter ver geslinger, het al drie getuig.

Volgens Vermaak het die taxibestuurder daarna “baie ver aangery”, toe tot stilstand gekom en ’n klein entjie teruggery voordat hy stilgehou het.

Volgens hom het Bernadine eers in die linkerbaan gery met die toetende taxi kort op haar hakke. Sy het haar flikkerlig aangesit en na regs oorbeweeg, waarna die taxi haar gevolg het.

Toe Vermaak gevra is of daar enige rede vir die taxibestuurder was om te toet, het hy gesê daar was nie eens pendelaars langs die pad nie.

“Dit het gelyk of hy haar uit die pad wil kry.”

Die ooggetuies het almal gesê hulle meen Matji kon die ongeluk vermy het deur remme aan te slaan of bloot na die linkerbaan oor te gaan.

Adv. Rendani Mufumadi het namens Matji aangevoer Bernadine het voor hom ingery, hy het vir haar getoet “toe hy besef haar tydsberekening was nie perfek nie” en haar toe per ongeluk omgery.

Mufumadi het Vermaak gevra of hy taxibestuurders haat.

“Ek stel dit aan u dat u verskuilde motiewe het. Dis waarom u getuig.”

Adv. Sanet van Rensburg, staatsaanklaer, het op dié punt beswaar aangeteken wat deur streeklanddros Edmund Patterson gehandhaaf is.

Me. Elsabé Homan, Bernadine se ma, het by tye die trane van haar wang afgevee toe die getuies haar dogter se laaste oomblikke beskryf het.

Die saak is tot volgende week uitgestel.

Bron: http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2547632,00.html

No comments:

Post a Comment