Monday, September 14, 2009

Dit het gevoel soos bleddie ­horror movie’

Virginia Keppler

’n Bejaarde man van Bronkhorstbaai, oos van Pretoria, is die naweek in sy bed langs sy byna blinde vrou in die maag geskiet toe drie gewapende rowers hulle in hul slaapkamer oorval het.

Mnr. Ben Laing (74) het gister in die waakeenheid van die Pretoria-Oos-hospitaal vertel hoe drie rowers hom en sy vrou, Rebecca (75), eergister om 02:20 in hul slaap oorval het.

Hulle was nie eens behoorlik wakker toe die rowers hom geskiet het nie.

“Ek het ’n lawaai in die slaapkamer gehoor en toe ek weer sien, staan daar drie mans in die slaapkamer. Daar was ’n langerige man wat ’n pistool rondgeswaai en geskreeu het ‘ Where is the money ’,” het Laing gesê.

Die volgende oomblik het ’n skoot geklap en toe voel hy iets skerp in sy maag. “Die skoot is by die een kant van my maag in en by my linkersy uit en die koeël het in die matras vasgesteek. My vrou, wat net genoeg kan sien om nie in goed vas te loop nie, het nie geweet wat aangaan nie. Nog ’n skoot het afgegaan.

“Ek het eers gedink hulle het my vrou ook geskiet, maar later besef hulle het teen die dak geskiet. Dit het gevoel of ek in die middel van ’n bleddie ­horror movie was.

“Ek het hom gevra hoekom skiet hy my, maar hy het nie geantwoord nie. Dit was regtig nie nodig dat hy my skiet nie, want ek sou nooit argumenteer met ’n ou wat ’n vuurwapen in die hand hou nie.”

Een van die rowers het daarna vir me. Laing gesê: “Ouvrou, gee jou geld en juwele.”

Me. Amanda Els, Laing se skoondogter, het gesê haar skoonma het haar trouringe van haar vingers afgehaal en dit aan die rowers gegee.

Volgens Els het die rowers by drie vensters probeer inbreek, maar hulle kon nie die diefwering breek nie. Hulle het daarna die voordeur met ’n skroewedraaier oopgedwing.

“Hulle het eers ’n televisie en skootrekenaar uitgedra voordat hulle terug in die huis is om my skoonpa te skiet.

“Ons is nie rassiste nie. My skoonma kan nege swart tale praat en my skoonpa het sy hele lewe met die opvoeding van kinders in die townships in Venda gehelp.

“Hulle is goeie mense,” het ’n hartseer Els gesê.

Laing het gesê hy en sy vrou woon die afgelope twee weke in ’n woonstel op hul seun se erf.

“Baie van ons goed is nog nie uitgepak nie en die televisie was ook nog in sy kartonhouer.

“My pistool was gelukkig goed weggebêre.”

Sers. Marinda Stoltz, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê die polisie ondersoek dit.

Bron: http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/f1c1fcfa73f5480693f3a5e8d50e556c/13-09-2009-09-36/%E2%80%98Dit_het_gevoel_soos_bleddie_%C2%ADhorror_movie%E2%80%99_

No comments:

Post a Comment