Friday, September 11, 2009

Swartes vermoor Afrikaner met mes en graaf

'Hulle het hom regtig verniel’

Hilda Fourie

’n Pretorianer se enigste kind het op sy lyk afgekom nadat hy vermoedelik met ’n graaf oor die kop geslaan en met ’n mes gesteek is.

“Hulle het hom regtig verniel,” het mev. Anya Swart gister oor haar pa, mnr. Sarel Koekemoer (69), gesê nadat sy hom Dinsdagaand in die badkamer van sy huis in Bultfontein, noord van Pretoria, gekry het.

Drie mans, waarvan een af en toe vir Koekemoer gewerk het, is binne 24 uur ná die moord vasgetrek. Koekemoer se selfoon, vuurwapen en kontant is in hul besit gevind.

Swart (43) het Dinsdagaand begin bekommerd raak toe haar pa nie oudergewoonte by hulle in Onderstepoort kom eet het nie.

Hy het ook nie sy telefoon geantwoord nie.

Sy het na sy kleinhoewe gery. By die kleinhoewe moes sy deur die draad klim omdat die hek gesluit en alles donker was.

Die huis se kombuisdeur en veiligheidshek was toe, maar nie gesluit nie. Swart het haar pa in die badkamer gesien lê.

“Ek het aan hom gevat en gevoel hy is klaar yskoud,” het sy vertel. “Ek het uitgegaan en my man (mnr. Jan Swart), wat by ’n gemeenskapspolisiëringsforum (GPF)-vergadering was, gebel.

“Toe ek teruggaan (in die huis), het ek die lig aangesit. Hy het in ’n verskriklike plas bloed gelê.”

Mnr. Swart het polisielede, wat by die vergadering was, gevra om die Hammanskraal-polisiekantoor te kontak. Die polisie was binne minute op die toneel.

Volgens Swart word vermoed Koekemoer is in die tuin oorval en met ’n graaf geslaan. Die aanvallers het hom toe in die huis geneem waarna hy minstens twee keer met ’n mes gesteek is.

“Die wreedaardigheid van mense is ongelooflik. Dis hartelose mense dié,” het Swart gesê.

“Ek dink heeltyd aan wat hy (Koekemoer) moes deurmaak tot waar hy in ’n plas bloed geëindig het.”

Me. Tarien Cooks van die Hammanskraal-GPF het gesê die brandweer en lede van die gemeenskap het Dinsdagmiddag male sonder tal verby Koekemoer se huis gery omdat hulle besig was om ’n brand daar naby te blus.

“Ondanks soveel beweging het die misdadigers hom steeds vermoor,” het Cooks gesê.

Mnr. Swart het gesê die polisie se vinnige optrede om die verdagtes vas te trek, “gee ’n mens ’n bietjie gemoedsrus”.

Die polisie kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Koekemoer laat ook twee kleinkinders, Cornélle (13) en Esmiralda (18), agter.


- Beeld

No comments:

Post a Comment